My ouma, Dinah Louisa Dorothea VERMEULEN is gebore op Vrydag 16 Februarie 1917 in Oudtshoorn.
Sy was die 8ste kind van Petrus Jacobus HILLS en Dinah Louisa Dorothea LERM. Ekself het haar
net geken as Ouma. Ouma sou later 15 broers en suster gehad het.
Van Ouma se lewe in Oudtshoorn is eintlik maar bitter min bekend. Dat hulle as gesin
baie arm was en swaar gekry het, weet ek wel. Ouma het eendag aan my vertel hoe koud
sy gekry het in Oudtshoorn op haar ouma se begrafnis. Hulle het nie geld gehad nie, en so
het dit dan gekom dat Ouma kaalvoet in die winter op haar ouma se begrafnis was.
Iewers tussen April 1925 en Julie 1927 trek die familie Transvaal toe. In die omgewing
van Brits het Ouma se pa op 'n stukkie grond geboer. Ouma was toe omtrent 10 jaar oud gewees.
Op 21 jarige ouderdom is Ouma getroud met Peter Jacob VERMEULEN op 10 September 1938.
![]() |
Hulle het in Johannesburg gewoon. Hoe Ouma hom ontmoet en in
Johannesburg beland het, weet ek nie. Verder moes Peter Jacob in die
Engelse kerk gewees het, want hulle doop my ma op 9 Februarie 1941 in die
Rosettenville Methodist Church.
Hierdie huwelik sou nie meer as 14 jaar duur nie, want op 7 Mei 1952 is
Peter Jacob oorlede. Alhoewel hy maagkanker gehad het, was hy skielik
oorlede as gevolg van 'n hartaanval.
|
Op 'n foto waarin Ouma saam met my ma (as baba) en haar man op verskyn lyk dit tog of dit goeie
en gelukkige jare was. Dit is my gevolgtrekking wat ek graag wil glo. Die jare wat hierna sou volg
sou swaar en bittere jare vir Ouma gewees het.
![]() |
Daar sit Ouma toe in Johannesburg. Sonder 'n man en sonder
'n werk. Die Welsyn het wel probeer help.
Die hulp van die Welsyn is egter maar skaars genoeg as jy 5 kinders
het wat moet eet. Hou nou gemaak?
|
Hier het so baie dinge gebeur. 'n Hele boek kan geskryf word oor alles
wat ek as kind hier beleef het, maar hierdie stuk gaan nie oor die huis nie, maar oor
Ouma.
Ek is gebore in 1973 in Rustenburg. My ma was baie siek gewees met my geboorte en Ouma het by my
ouerhuis gaan help die eerste tyd daarna.
![]() |
