My ouma, Dinah Louisa Dorothea VERMEULEN is gebore op Vrydag 16 Februarie 1917 in
Oudtshoorn. Sy was die 8ste kind van Petrus Jacobus HILLS en Dinah Louisa
Dorothea LERM. Ekself het haar net geken as Ouma. Ouma sou later 15 broers en
suster gehad het.
Van Ouma se lewe in Oudtshoorn is eintlik maar bitter min bekend. Dat hulle as
gesin baie arm was en swaar gekry het, weet ek wel. Ouma het eendag aan my vertel
hoe koud sy gekry het in Oudtshoorn op haar ouma se begrafnis. Hulle het nie geld
gehad nie, en so het dit dan gekom dat Ouma kaalvoet in die winter op haar ouma se
begrafnis was.
Iewers tussen April 1925 en Julie 1927 trek die familie Transvaal toe. In die
omgewing van Brits het Ouma se pa op 'n stukkie grond geboer. Ouma was toe omtrent
10 jaar oud gewees.
Op 21 jarige ouderdom is Ouma getroud met Peter Jacob VERMEULEN op 10 September 1938.
![]() |
Hulle het in Johannesburg gewoon. Hoe Ouma hom ontmoet
en in Johannesburg beland het, weet ek nie. Verder moes
Peter Jacob in die Engelse kerk gewees het, want hulle
doop my ma op 9 Februarie 1941 in die Rosettenville
Methodist Church.
Hierdie huwelik sou nie meer as 14 jaar duur nie, want
op 7 Mei 1952 is Peter Jacob oorlede. Alhoewel hy
maagkanker gehad het, was hy skielik oorlede as gevolg
van 'n hartaanval.
|
Op 'n foto waarin Ouma saam met my ma (as baba) en haar man op verskyn lyk dit tog
of dit goeie en gelukkige jare was. Dit is my gevolgtrekking wat ek graag wil glo.
Die jare wat hierna sou volg sou swaar en bittere jare vir Ouma gewees het.
![]() |
Daar sit Ouma toe in Johannesburg. Sonder 'n man en
sonder 'n werk. Die Welsyn het wel probeer help.
Die hulp van die Welsyn is egter maar skaars genoeg
as jy 5 kinders het wat moet eet. Hou nou gemaak?
|
Hier het so baie dinge gebeur. 'n Hele boek kan geskryf word oor alles wat ek as
kind hier beleef het, maar hierdie stuk gaan nie oor die huis nie, maar oor Ouma.
Ek is gebore in 1973 in Rustenburg. My ma was baie siek gewees met my geboorte en
Ouma het by my ouerhuis gaan help die eerste tyd daarna.
![]() |
